Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 13 MEI 2018

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Die bulletin word deur ZS6JPL via Echolink herlei. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

OKOSA NUWE OUTOMATIESE LISENSIËRING STELSEL BINNEKORT AANLYN

DIE ZS9YOTA UITDAGING

en

SWAK BEDRYFSPRAKTYKE OP HF

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.

Die SARL-Nuusspan wens alle Moeders 'n baie gelukkige Moedersdag toe!

OKOSA NUWE OUTOMATIESE LISENSIËRING STELSEL BINNEKORT AANLYN

SARL President, Nico van Rensburg, ZS6QL en SARL Regulerende Sake Bestuurder, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV het met OKOSA Hoof Uitvoerende Beampte Willington Ngwepe en van sy senior personeel vergader om ‘n paar lank uitstaande aangeleenthede te bespreek wat nie deur die skakelkomitee opgelos kon word nie. Ngwepe het die SARL ingelig dat OKOSA besig was om ‘n nuwe spektrum bestuurstelsel te implementeer wat die huidige gaping tussen lisensies en betalings sal uitskakel. Hierdie gaping skep die indruk dat lisensies gekanselleer is. Die SARL is verseker dat roepseine nie op die stelsel gekanselleer is nie alhoewel die SARL databasis wel mag wys dat sommige lisensies gekanselleer is. OKOSA sal ‘n volledige databasis aan die SARL voorsien waarin alle roepseine met ‘n betalings geskil met ‘n sterretjie geïdentifiseer sal wees. Die SARL sal vroeg volgende maand hierdie hersiene databasis in die SARL roepsein boek implementeer.

Sodra die nuwe OKOSA stelsel later hierdie jaar bekendgestel word, sal aansoeke, adresveranderings, betalings en hernuwings aanlyn plaasvind. Die probleem met kommissie wat deur die Poskantoor op betalings gehef word, sal ook reggestel word. Indien jy ‘n rekening vir ‘n uitstaande bedrag van R12.50 ontvang het, ignoreer dit asseblief aangesien OKOSA jou rekening sal krediteer. Vir enige huidige lisensie betalings navrae, stuur asseblief ‘n e-pos aan Dewald by dkuhrau@icasa.org.za met ‘n afskrif van die betalingsbewys en roepsein.

Die Hoof Uitvoerende Beampte het ook ingestem om die SARL aansoek vir spesiale roepseine vir amateurs wat aan internasionale kompetisies deelneem, te heroorweeg. Hy het ook bevestig dat die geskil tussen DTPS en OKOSA opgelos is en dat die nuwe radio frekwensie spektrum-plan binnekort in die staatskoerant gepubliseer sal word. Ander regulatoriese aangeleenthede wat reeds lank op die skakelkomitee agenda is, sal na die onderskeie departemente verwys word vir spoedige beslissing. "Ek glo dat ons ontmoeting vrugbaar was vir beide OKOSA en die SARL", het Nico van Rensburg gesê. "Dit het ons die geleentheid gegee om te bespreek hoe die SARL bedryf word, die voordele wat SARL SARL Hamnet aan die land lewer en die tegnologie soos voortplanting navorsing, ondersoek na die stygende RF geraasvloer en satelliettegnologie waarby radio amateurs en die amateurdiens betrokke is."

DIE ZS9YOTA UITDAGING

Gedurende verlede maand se SARL AJV het Noel, ZR6DX, alle radio amateurs uitgedaag om R100 te skenk aan die ZS9YOTA fonds vir die komende YOTA Somerkamp wat in Augustus in Suid-Afrika gehou sal word. Die Centurion ARK het alle radio klubs uitgedaag om R500 aan die ZS9YOTA fonds te skenk.

Ondersteun asseblief ZS9YOTA met 'n bydrae via PayPal of 'n EFT in die SARL bankrekening en gebruik asseblief YOTA-jou roepsein as 'n verwysing, bv. YOTA-ZS4BFN. Stuur asseblief 'n e-pos aan ons deur middel van die "Become a sponsor" bladsy om ons in te lig oor jou bydrae. Besoek www.zs9yota.co.za vir al die besonderhede. Alle geldelike bydraes, hetsy persoonlik of as 'n klub, is van die grootste belang vir die ZS YOTA fonds. Geen bedrag is te klein nie en alle bedrae word waardeer. Ons bedank al die lede en klubs wat reeds bygedra het tot die toekoms van Amateur Radio deur 'n skenking te doen aan die YOTA 2018 fonds.

SWAK BEDRYFSPRAKTYKE OP HF

Na aanleiding van 'n onlangse gekommunikeerde tendens van op-die-lug wangedrag, insluitend wangedrag op 20 m, het die Namibiese Amateur Radioliga (NARL) President Werner, V51JP en die SARL President Nico, ZS6QL met die onderskeie individue geskakel en die saak opgelos. Ongelukkig het dit nie daar geëindig nie; ons is tans besig met 'n situasie waar Suid-Afrikaanse radio amateurs hulself nou aan wangedrag skuldig maak.

Amateur radio is 'n selfregerende stokperdjie en ons as gerespekteerde amateurs werk in ooreenstemming met 'n gedragskode wat vir samewerking, hulp, lojaliteit, goedwilligheid, geduld, oorweging en vriendskap op die lug dien.

Die SARL-raad wil graag 'n beroep doen op ons Suid-Afrikaanse amateurs om van slegte gedrag en swak bedryfspraktyke af te sien. Moedig asseblief regverdige spel aan en hou by die amateur-gedragskode op die lug in die gees van amateur radio.

RAE SATERDAG 19 MEI

Die SARL wens alle kandidate wat op Saterdag 19 Mei die volgende radio amateur eksamen aflê beste wense toe. Dankie aan al die klubs, lektore en toesighouers wat die eksamen moontlik maak. Ons hoop om binnekort heelwat nuwe stemme op die lug te hoor.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

AMSATSA RUIMTE SIMPOSIUM VOLGENDE SATERDAG

Moenie die AMSATSA Ruimte Simposium volgende Saterdag mis nie. Besprekings is nog oop vir die AMSATSA ruimte simposium wat Saterdag 19 Mei 2018 by die Innovation Hub in Pretoria gehou word. Leer meer oor wat BACAR beplan vir die jaar, leer hoe om ‘n Es'hailsat grond stasie te bou en hoe om dit te toets selfs nog voor die satelliet later vanjaar lanseer word. Ander interessante items op die program sluit in hoe om ‘n SDR transponder te bou, pret met Funcube telemetrie, ‘n Kletskous opdatering, ‘n demonstrasie van die nuwe transponder, ‘n voorskou van die UADC4 of Universele Analoog na Digitale Omsetter wat deur Alex, ZS6EME by die EME konferensie in Nederland in Augustus bekend gestel sal word en hoekom geraas ook saak maak in swak sein kommunikasie. Kry die volledige program en registrasievorm op www.amsatsa.org.za. Jy kan ook jou registrasiestatus nagaan. Registrasies sluit om 20:00 op Donderdag 17 Mei.

TERUGVOER OOR DIE SARL HAMNET VERDUISTERINGS OEFENING

SARL Hamnet het gedurende die naweek van 5 en 6 Mei 'n nasionale oefening gehou. Die oefening het van Saterdagmiddag tot Sondagmiddag plaasgevind. Gedurende die 24-uur tydperk het spanne boodskappe oor die hele land versprei terwyl hulle van die kragnetwerk onafhanklik was. Spanne moes 'n BHF-span met internet toegang en 'n HF-span hê om boodskappe tussen spanne te stuur. Spanne het ook verskeie take gehad om uit te voer - soos om hul ligging in verskillende GPS-formate en ruitvierkante te stuur.

Die internet is net gebruik om die boodskappe na die BHF-spanne te stuur en om die BHF-spanne toe te laat om boodskappe te log. Dit het die organiseerders in staat gestel om die boodskappe in ware tyd te monitor. Alle boodskappe is per radio gestuur. Die professionaliteit en hoflikheid waarmee die boodskappe gestuur is, is 'n eerbetoon aan die soort mense wat ons in SARL Hamnet en in die amateur gemeenskap in die algemeen het. Altesame 11 spanne het deelgeneem en net minder as 350 boodskappe is gestuur. Baie van hulle is deur 'n derde party oorgedra.

Ons het bewyse dat die Vrystaat 'n bietjie koud was, danksy 'n foto wat deur ZS4DCC geneem is! SARL Hamnet wil graag almal bedank wat hul tyd opgeoffer het om deel te neem.

17 NUWE HAMMIES IN BHISHO

Baie geluk aan Dave Higgs, ZS2DH en sy span wat ‘n spesiale RAE oefenkamp vir 17 jongmense van ‘n landelike gemeenskap gereël het. Hulle het op 30 April hul Klas-B RAE eksamen afgelê. Hierdie jongmense behoort aan die Bhisho Padvinder Groep en is deur hul Padvinder-leier Lunga Nqini aangemoedig om radio amateurs te word.

Hierdie groep is deur die plaaslike gemeenskap kerk geborg, maar sal verdere borge/skenkings benodig om voort te gaan met hul amateur radio aktiwiteite. Die ZS2ZU en ZS6ZU Hammies klubs het elk ‘n BHF radio aan hierdie groep geskenk. Ons doen ‘n beroep op die amateur gemeenskap vir verdere skenkings. Indien jy bereid is om te help, kontak asseblief vir Dave Higgs by om@zs2dh.co.za of Noel Hammond by zr6dx@iafrica.com

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag gaan bly. Tans is daar slegs 'n enkele, stabiele sonvlekke sigbaar. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

Vandag – Moedersdag
15 Mei – die Internasionale Dag van Families
16 Mei – die begin van Ramadan
18 tot 20 Mei – Hamvention 2018
19 Mei – die Mei RAE, die AMSATSA Simposium en die Koninklike Huwelik
20 Mei – die ZS3 Naelloop
21 Mei – die sluitingsdatum vir AWA Buis QSO Geselligheid Logstate
24 Mei – die sluitingsdatum vir Junie Radio ZS artikels
26 Mei – die Kaapstad ARS Vergadering
26 en 27 Mei – die CQ WPX Gelykgolf Kompetisie
27 Mei – die sluitingsdatum vir ZS3 Naelloop Logstate
1 tot 3 Junie – Ham Radio 2018 in Friedrichshafen
2 Junie – die Wesrand ARK Snuffelmark
10 Junie – die Hammies Naelloop

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

SARL President, Nico van Rensburg ZS6QL en SARL Bestuurder Regulasies, Hans van de Groenendaal ZS6AKV het OKOSA Hoof Uitvoerende Beampte Willington Ngwepe en van sy senior personeel ontmoet om ‘n paar lank uitstaande aangeleenthede te bespreek wat nie deur die skakelkomitee opgelos kon word nie. Ngwepe het die SARL ingelig dat OKOSA besig was om ‘n nuwe spektrum bestuurstelsel te implementeer wat die huidige gaping tussen lisensies en betalings sal uitskakel.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, geredigeer deur Dennis Green, ZS4BS/1, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003